Die lotgevalle op die plaas Grootmoedersdrift ontvou deur ’n reeks lewensbepalende verskuiwings van mag en behoefte tussen vier intiem verbonde mense. Milla Redelinghuys, idealistiese erfgenaam van die familieplaas, word op gruwelike wyse ontnugter in haar huwelik met Mooi Jak de Wet. Agaat Lourier, vir wie Milla met ’n streng en liefdevolle hand opgevoed het tot huishoudster en kinderoppasser, beheer die mense en die boerdery op toenemend tirannieke wyse. Jak herken homself oor die jare met stygende verontwaardiging, as die slagoffer van niksontsiende manipulasie deur die twee vroue van die huis. En Jakkie, hulle enigste seun, verlaat uiteindelik die land as politieke vlugteling om in Kanada heenkome te soek en homself as etnomusikoloog te bekwaam. Hierdie geskiedenis word onthul terwyl Milla – verlam en van spraak ontneem deur motorneuronsiekte – versorg word deur ’n diep bedroefde en wraaksugtige Agaat, nou in haar middeljare.
In Agaat – ’n teer en oorrompelende roman oor plaasvroue, in nood aangewese op mekaar – gee Marlene van Niekerk ’n ontstemmende blik op ’n halfeeu se Afrikaanse landskap, soos gekenmerk deur ontwrigte, verminkte menslikheid maar ook deur nooitaflatende hoop.
Die uitsterste grensgebiede van intimiteit word verken. Hoe word daar afskeid geneem en gesterwe? Deur watter soort genade? Wat is die ware aard van wat mens so maklik “liefde” en “sorg” noem?
लेखक के बारे में
Marlene van Niekerk is op 10 November 1954 op die plaas Tygerhoek naby Caledon gebore. Sy gaan skool op Riviersonderend en Stellenbosch en matrikuleer aan die Hoërskool Bloemhof. Sy studeer filosofie, tale en letterkunde aan die Universiteite van Stellenbosch, Amsterdam en die Witwatersrand. Sy debuteer in 1977 met die digbundel, Sprokkelster, waarvoor sy die Eugène Marais- en die Ingrid Jonkerprys ontvang. Haar eerste roman, Triomf, verskyn in 1995 en word onder meer met die Noma-prys vir die beste publikasie uit Afrika bekroon. Tien jaar later verskyn Agaat wat ses toekennings, onder meer die Hertzogprys vir prosa (2004), ontvang. Die vertaling van Agaat is ook met die Sunday Times Literary Award bekroon. Vir haar digbundel, Kaar, ontvang sy in 2014 die Hertzogprys vir poësie. Marlene is tans ’n professor in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch.