’n Wêreld sonder grense is ’n bundel aaneenskakelende kortverhale, almal onderdele van ’n oorlogverhaal wat met seldsame ekonomie vertel word. Dit is ’n genadelose boek oor ’n brutale bosoorlog; oor ’n naamlose jong seun wat soldaat word deur ’n reeks inisiasies in geweld. Algaande word die veilige wêreld agtergelaat, totdat daar nog net die grense bestaan wat deur die grensloses vir hulself versin word.
Over de auteur
Alexander Strachan is op 9 Junie 1955 in die distrik Ladysmith in Kwa Zulu-Natal gebore. Hy matrikuleer in 1972 aan die Hoër Landbouskool Tweespruit. Ná studie in tale aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (en later in literatuur-wetenskap aan Unisa) word hy professor in Zoeloe aan die Universiteit van Zoeloeland. Ná sy bedanking skryf hy voltyds en sit sy wildboerdery voort. Alexander is ’n vlot Zoeloespreker en hou hom deeltyds besig met industriële teater wat hy volledig via die medium van die inheemse tale aanbied.
Alexander se debuutbundel kortverhale, ’n Wêreld sonder grense (1984), is met die Eugène Marais-prys bekroon. ’n Wêreld sonder grense maak saam met die werk van ander skrywers (soos JC Steyn, Etienne van Heerden en Koos Prinsloo) deel uit van grensliteratuur. Daarna verskyn die romans Die jakkalsjagter (1990) en Die werfbobbejaan (1994). Hiermee wen hy De Kat en Antenne se Groot Romanwedstryd, en vir laasgenoemde word hy bekroon met die WA Hofmeyr-prys. Met sy derde roman, Dwaalpoort (2010), wen hy wéér die W.A. Hofmeyr-prys. In 2015 verskyn sy mees onlangse werk, Brandwaterkom.